Ons het ’n poster! En die eerste
@woordfees -vertoning van “Ek is nie Danie” op 14 Oktober is om die draai. Dis die datum waarop my ou vriend
@rouxbox verjaar en ook die datum waarop ek 31 jaar gelede stil-stil, halsoorkop, semi-tragies in Oldenburg getroud is.
Alwyn Roux het nou die dag opgemerk dis vir hom interessant dat ek ook in my mees onlangse bundel, “Ek en jy bestaan nie”, nog oor Duitsland geskryf het. Ek skat die rede is dat daardie nege jaar vir my so ’n vormende ervaring was – ’n geweldige besef van die mikroskopiese impak van my lewe en die onbenullige toevalligheid van my Afrikaanse herkoms en al die wroegings en dilemmas waarmee dit gepaard gaan. Ek was daar, die eerste keer, baie lank nie Danie, soos soveel miljoene der miljoene ander mense.
Wanneer jy lank op ’n ander plek bly, is die gevolg dat jy die gewoontes en tradisies van jou aanneemland begin sien as net ’n ander vorm van parogiale provinsialisme as dit waarmee jy grootgeword het – dit wat destyds vir jou die hele wêreld was en die enigste stel reëls wat gegeld het. En tog brand jy snags vir iets en iemand, verniet en alleen, in ‘n taal en vir ‘n land wat jou steeds aan die nekvel beet het en net nie wil laat los nie, maar tegelyk voel of dit in een groot kosmiese onwaarskynlikheid verdwyn het en kwalik bestaan.
Die werklikheid het vir my op ’n onwederkeerbare manier in Duitsland ’n geval geword van – now you see it, now you don’t. Ek het daar ’n gevoel van marginaliteit binne enige groter prentjie geïnternaliseer wat my as moedelose middeljarige in Suid-Afrika weer gewurg het toe ek begin wonder het hoeveel ekke en jys mekaar nog oor sosiale skeidslyne kan en wil vind.
Hierdie ervaring en paradoks lê aan die hart van “Ek is nie Danie”, wat die pad van Duitsland vat tot in die Suid-Afrikaanse verwarspul van die hede.
En glo my,
@albert_pret is die regte man om hierdie emosionele vuilwerk te doen. Wat tussen hom,
@schalkjoubertmusic en
@nicoscheepers gebeur het, was ’n alchemistiese proses wat my en
@nielvandev verstom het.
Kaartjies is by Quicket beskikbaar.